
WESKUS BLOMMETOER 2015
Daar is nog net plek vir 3 pare (6 persone) beskikbaar!!
Ek nooi jou persoonlik uit om saam met ons hierdie jaar die veldblomme van Namakwaland te gaan soek!
Ons ry met ‘n lugversorgde, luukse bus (net 18 persone) en gaan tuis in netjiese gastehuise of hotelle. Ons sorg vir alles – vervoer, etes, besienswaardighede – jy is net verantwoordelik vir goeie geselskap en eie drinkgoed.
Plekke is reeds bespreek en die toerprogram lyk soos volg:
Sondag 23 Augustus
Ons bus vertrek om 11:00 vanaf Loerie en stop in Jeffreys, Humansdorp en St Francis om gaste op te laai. (As jy dalk in die Langkloof bly kan ons ook daar oplaai.)
Ons ry via die Langkloof na Oudtshoorn, eet vroeë aandete op Calitzdorp en oornag dan by Matjiesvlei Gasteplaas.
Maandag 24 Augustus
Na ‘n oggendkoffie ry ons verder deur die Seweweekspoort en stop op die bekende Matjiesfontein vir brunch. Van hier ry ons via Sutherland na die Tankwa Karoo Nationale Park waar ons vir twee nagte tuisgaan in die Elandsberg-huisies (Ons is nou al so gewoond aan “load shedding” dat die gebrek aan elektrisiteit ons nie eers sal pla nie!) Hier in die rustigheid van die Tankwa gooi ons ‘n stukkie vleis op die kole en verdrink in die prag van die sterrehemel.
Dinsdag 25 Augustus
Vir diegene wat nie so avontuurlustig (romanties?) is om laat te slaap nie, sal ons ‘n draai in die park ry op soek na blomme en ander mooi goed. Ons eet brunch by ons huisies en dan kan jy swem, slaap, rondloop of net niks doen nie. Die aand steek ons weer die braaivleisvure aan vir ‘n gesellige kuiertjie en ete.
Woensdag 26 Augustus
Ons durf die grondpad verder aan na Calvinia (ongelukkig mis ons die Hantam Vleisfees met 2 dae!) vir ‘n brunch by een van die plaaslike eetplekkies. Na ete ry ons na Nieuwoudtville en besoek plekke soos die kokerboomwoud, die waterval, en dan natuurlik die blomme. Laat middag daal ons af kus toe en trek in by Klawer Hotel vir die volgende drie dae.
Donderdag 27 Augustus
Vandag ry ons Noord met die N7 en soek blomme tot in Springbok en dan weer terug.
Vrydag 28 Augustus
Net weer ‘n dag om asem te skep. Ons gaan ‘n draai maak in die wingerde van die Olifantsriviervallei en plekkies soos Lutzville, Koekenaap, Strandfontein (by die see) en Doringbaai besoek (en natuurlik een of twee wynkelders ook). Die aand slaap ons weer in Klawer.
(Donderdag en Vrydag se program kan omgeruil word afhangende van die weer – die blomme maak net hul gesiggies oop as die son skyn!)
Saterdag 29 Augustus
Ons ry vandag weer Suid deur plekke soos Clanwilliam en Worcester om die aand op Robertson in die Hanepoothuisies te oornag. Hier wag ‘n heerlike bord boerekos op die honger reisiger.
Sondag 30 Augustus
Na ‘n stewige ontbyt vat ons die pad huiswaarts om so teen laat middag weer tuis te wees.
Toerprys sluit in:
- Gedeelde akkommodasie
- 2 Etes per dag
- Vervoer
- Toegangsgelde
Uitgesluit:
- Eie drankies
Toerprys:
R 6 600-00 per persoon
Deposito:
50% deposito is betaalbaar met bespreking
Balans voor 1 Augustus 2015
Kontak Jasper Louw op 082 490 6340 of jjasper@lantic.net vir meer inligting en bankbesonderhede